Wat in die wêreld is liefde, as ons stilsit?
Dit is ‘n vraag wat ‘n mens laat dink oor jou betrokkenheid in ‘n gemeenskap en die liefde wat jy kan gee of wil gee.
Sien ons soms ander se nood en seer raak maar verkies om stil te sit niks te doen nie, want ons wil eerder nie betrokke raak nie? Of simpatiseer ons graag met woorde maar wys nie noodwendig ons liefde en omgee met dade nie?
Riaan Benade skryf in ‘n lied: “En as elkeen bou voor sy buurman se huis en die koue uithou vir die wat nog reis na die beloofde land sal ons volk nooit tot ‘n einde kom nie.”
Daar is krag in ‘n gemeenskap wat saamstaan, daarom sê Solidariteit: Ons voeg die daad by die woord. Ons sien die nood en ons tree aktief op en bemagtig gemeenskappe om hierdie nood effektief en volhoubaar te verlig.
Liefde en omgee in ‘n gemeenskap is ‘n gevoel van samehorigheid wat mense aanmoedig om mekaar te respekteer en versorg. Dit is elke lid van ‘n gemeenskap se verantwoordelikheid om te streef na ‘n samelewing wat gegrond is op liefde, geregtigheid en medemenslikheid. Dit beteken om op te staan vir die regte van die onderdruktes, om te veg teen onregverdige stelsels, en om ‘n stem te gee aan dié wat geen stem het nie.
Wanneer hierdie beginsel die kern van ‘n gemeenskap is, word daar ‘n kultuur van vertroue geskep waarin mense hulle ware self kan uitleef en behoeftes kan deel sonder vrees vir oordeel. Solidariteit streef na gemeenskappe met ‘n sterk sin van verbondenheid waar mense gemotiveer is om mekaar by te staan in tye van nood, om saam te lag in tye van vreugde, en om saam te werk aan die opbou van ‘n beter toekoms vir almal. Gemeenskappe waar mense nie net materiële rykdom koester nie, maar ook die rykdom van menslike interaksie en ondersteuning. Hierdie verbondenheid is die boumateriaal vir ‘n sterk gemeenskapstruktuur wat bestand is teen die storms van die lewe – vir mekaar, saam met mekaar.
Die beginsel van liefde is dus nie ‘n abstrakte konsep nie. Dit is die idee dat ons nie net omgee vir ons eie belange nie, maar ook vir die belange van ons gemeenskap. Dit is ‘n oproep om woorde om te sit in dade, ‘n roeping om uit ons gemaksone te tree en aktief by te dra tot ‘n beter lewenskwaliteit vir dié wat nog soekend is.
Die krag van hierdie liefde word sigbaar in ons dade. Dit is nie bloot iets wat ons sê nie, maar iets wat ons doelbewus doen. Ons kan hierdie liefde ten volle uitleef deur net ons tyd en talente te deel met ons gemeenskappe in nood.
As ons almal ons daaraan toewy om mekaar met dade lief te hê, sal ons gemeenskappe om ons transformeer. Ons sal sien hoe elke individu ‘n aktiewe rol speel in die skep van ‘n beter môre.
Die krag van liefde deur middel van dade is onmeetbaar. Elke bydrae en gebaar, hoe groot of klein ook al, dra by tot ‘n groter prentjie van menslikheid en medemenslikheid. Mag ons almal daarna streef om lief te hê deur ‘n bietjie van onsself aan ons medemens te gee.
Want wat in die wêreld is liefde as ons stilsit?