Uitnemendheid!
“Sien jy ‘n man wat vaardig is in sy werk – hy kan voor konings staan …” (Spreuke 22:29)
“En wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here …” (Kolossense 3:23)
Ons lewe in ‘n wêreld waar ‘n strewe na sukses en die kompetisie om eerste te wees BAIE erg is op alle terreine van die lewe. In die lewe van babatjies is daar kompetisie tussen ouers oor wie se kind eerste sy kop kon optel en eerste kon omrol, wie die eerste tree op eie voete kon gee en die eerste woord praat. En dit hou net nooit op nie. Die beste punte in die klas, die vinnigste atleet, die meeste onderskeidings. Die beste studierigting, die beste maatskappy, die beste huweliksmaat, die beste voertuig, huis en omgewing. Beste … Beste … Beste …
Uitnemendheid is nie gelyk aan die beste nie. ‘n Strewe daarna om altyd die beste te wees kan, selfs ongesond wees en jou uiteindelik uitgebrand laat. Om die beste te wees, vergelyk jy jou fisiese en verstandelike vermoë met dié van ander. Uitnemendheid kom uit die hart. Omdat uitnemendheid uit die hart kom, is dit soos enige ander positiewe hartseienskappe iets wat ontgin en gevoed moet word. Hoe meer ek dit ontgin en voed, hoe groter raak die begeerte daarna om meer uitnemendheid te smaak.
Uitnemendheid begin in die hart omdat selfs die een met die geringste fisiese en verstandelike vermoë uitnemend kan wees. Juis dit kan my uiteindelik in ‘n beter posisie plaas as die een wat maar net op grond van sy vermoë die beste is.
Die ontginning van uitnemendheid
Dis belangrik dat uitnemendheid van vroeg in die lewe af ontgin word, voordat die natuurlike onkruid van die hart die wil om na uitnemendheid te strewe verdring en ook die bietjie strewe na uitnemendheid wat daar wel is, verdraai om dit verkeerd aan te wend.
Ontgin
- Om uitnemendheid te ontgin, is om van kleins af geleer te word dat jou hart se allerbeste goed genoeg is, maar dat jy ook bewus is daarvan dat dit altyd kan verbeter.
- In die ontginning van uitnemendheid moet ons kreatief te werk gaan om die verbeelding so te prikkel dat daar altyd ‘n begeerte sal wees om nog ‘n bietjie te verbeter. Ek is dus nie spyt oor die prestasie wat ek bereik het nie, maar ek weet dat ek met meer deursettingsvermoë en oefening die volgende geleentheid beter kan maak as die vorige een.
Verdring
- Die oomblik wat uitnemendheid nie ontgin en gevoed word nie, word dit verdring deur luiheid, sorgeloosheid, valse tevredenheid, en uiteindelik ontaard dit in ‘n slagoffersmentaliteit: “Ek wil nie my beste gee nie. Ek gee nie om om maar net tevrede te wees met tweede beste nie. Ek is nou maar so gemaak en so laat staan. Omdat ek nie die vermoë het nie, het ek nie die voordele wat ander het nie.”
Verdraai
- Wanneer uitnemendheid vanuit ‘n verkeerde hartsgesindheid nagestreef word, word dit ‘n strewe na selfverheerliking en eie eer. Dan misbruik ek my uitnemendheid om hoër op te klim met die leer van sukses en vanuit die hoogte op ander neer te kyk. Ek begin naderhand dink dat ek onaantasbaar is en nie van die leer kan afval nie. Wanneer ek wel val, is die teleurstelling so groot dat ek moeilik weer kan opstaan.
Groei
- Uitnemendheid is nie ‘n eenmalige gebeurtenis in ons lewens nie. ‘n Suksesvolle funksie kon dalk uitstekend gewees het, maar nie uitnemend nie. Uitnemendheid word bepaal deur die persentasie hartsgesindheid wat in die opdrag ingegaan het en die lesse wat jy uit die sukses van die verlede saamvat in die toekoms in.
- Ek voed my uitnemendheid deur gedurig terugskouend te vra: Was my hartsgesindheid reg vir die geleentheid? Het ek voortgebou op vorige geleenthede?
- Ek voed my uitnemendheid deur vooruitskouend te vra: Wat kan ek saamvat na die volgende geleentheid en wat moet ek eerder agterlaat?
- Ek groei in uitnemendheid deur myself in uitnemende omgewings in te dwing. Hier gaan uitnemendheid ook oor innemendheid. Die oomblik wat ek myself omring met uitnemende mense, moet ek bereid wees om die uitnemendheid wat hulle uitstraal in te neem en toe te pas.
- Ek voed my uitnemendheid deur uitnemendheid uit te deel. Die persoon wat slegs na sukses strewe, sal vra: Wat kan ek hieruit kry? Die persoon wat na uitnemendheid streef, vra eerder: Wat kan dit wat ek het vir ander beteken?
- Ek voed my uitnemendheid met my bereidwilligheid, en die vrug van bereidwilligheid is die vreugde in die oë van die een wat ontvang. Dit is vervulling by uitnemendheid. Daar is geen groter vreugde as die vreugde in die oë van iemand wat iets ontvang het wat hy nooit gedink het hy sal kan besit nie. Dink aan die speelding vir die hawelose kind, die warm beker sop vir iemand wat honger is op ‘n koue wintersdag, die geleentheid om op ‘n plek te wees waar jy nooit gedink het jy sal kan wees nie.
Theodore Rooseveldt was by uitstek ‘n voorbeeld van uitnemendheid. Sy vader se woorde: “Jy het die hart maar nie die lyf om te wees wie jy graag wil wees nie.” het hom gedring om sy liggaamlike gesondheid in lyn te trek met die uitnemendheid wat in sy hart geleef het. Uiteindelik het dit van hom ‘n man van uitnemendheid gemaak.
Uitnemendheid is ‘n eienskap waaraan ons volhardend moet werk. Ons moet gedurig op soek wees na unieke maniere om in uitnemendheid te groei. Ons moet onsself aanhoudend herinner dat dit wat ons met ons hart gee baie meer waarde het as dit wat ons met ons verstand en vermoë gee. Die vrug van uitnemendheid is die vreugde wat ons beleef in die oë van hulle aan wie ons met uitnemendheid kan uitdeel.