‘n Reis na sukses (‘n ware verhaal)

In 2024 begin ons oudergewoonte die nuwe jaar met ‘n groot gejuig. Met blink oë en ‘n aansteeklike energie droom ons groot vir die jaar wat voorlê. So skop ons die jaar af met ‘n propvol eerstejaarskamp wat sorg vir groot pret en plesier. Dis egter by hierdie kamp wat ek ook ‘n paar oë gewaar het wat nie helder blink nie.
Vroegoggend na ontbyt voer ek ‘n gesprek met die studente oor welstand – fisiese welstand, emosionele welstand, sosiale welstand en finansiële welstand. Nie lank daarna nie voel ek ‘n tik op my skouer en ‘n angstige gesiggie groet my met: “Tannie, kan ek asseblief met jou praat?“ Ek sien geen blink in die jong man se oë nie, net diep verwonding en ‘n tikkie vrees.
Terwyl ons kruisbeen op die gras sit, vertel hy my van sy ou lewe. Hy vertel van verkeerde vriende, armoede en eensaamheid. Hy moes sy enigste ware vriend aan die dood afstaan en het alleen gevoel in die lewe. Sy ouers het hard gewerk, maar geld was skaars. Hulle het van die hand tot die mond geleef en studies was nie eens ‘n opsie nie. Soos die gesprek vorder, gewaar ek tog iewers ‘n straaltjie hoop in daardie selfde paar oë. “Ek weier om my omstandighede te aanvaar as my lot in die lewe. Ek is vasbeslote om ‘n beter toekoms vir myself te bou.”Ennet daar op die gras langs die Oranjerivier in die Noord-Kaap begin sy reis na sukses.
Die volgende week doen hy suksesvol aansoek vir ‘n rentevrye studielening by Solidariteit Helpende Hand. Danksy die lening is die kaartjie na sy nuwe reis gestempel en so begin die harde werk en hard leer, maar vinnig besef ek daar vind soveel meer plaas gedurende die nuwe lewensreis. Hierdie skaam, eensame paar oë vorm waardevolle, opregte vriendskappe en dag vir dag vind hy menswaardigheid en voel al meer dat hy tuishoort tussen die mense om hom.
Einde 2024 stap ek een middag op kampus en iewers hoor ek ‘n jong man uit sy maag lag. Die stem is bekend. Dis die stem wat ek ‘n paar maande gelede kruisbeen op die gras langs die rivier hoor breek het. Soos ek nader stap, sien ek daardie einste jong man besig om te skerts met goeie vriende terwyl hulle hard aand die werk is. Ek sien ‘n jongman wat nie net sy studies nie, maar ook die lewe ten volle en met passie geniet. Ek sien ‘n paar oë wat vol hoop, doelgerigtheid en vrede blink. Terwyl ek wegstap, dink ek daardie lag is die mooiste geluid wat ek in ‘n lang tyd gehoor het. Ek dink met ‘n diepe dankbaarheid aan daardie jong man en ek besef dat sy reis na ‘n tuiskoms voltooi is.
Die Solidariteit Helpende Hand Studietrust het vir hierdie jong man nie net ‘n akademiese geleentheid geskep nie; dit het hom ook die kans gegun om te groei, om te voel dat hy tuishoort, om te lag en voluit te lewe terwyl hy ‘n waardige kwalifikasie ontvang. ‘n Volledige reis na ‘n nuwe lewe.
- Nadia Kuit
Maatskaplike werker
Bo-Karoo-streek